Dr. Ronell Bezuidenhout se nuwe boek, AL PSALMEND – 65 meditasies uit die Bybel se gebedeboek, verskyn binnekort.
Die Psalms omsluit die ganse lewe: huil en lag; wanhoop en hoop; bekommernis en beloftes. Elke emosie waaraan jy kan dink, sal jy in die Psalms vind.
Soms is dit geskryf in ’n taal wat vir ’n moderne leser hardvogtig en gevoelloos mag klink, máár dan moet ons onthou dat dit eerder as ’n gedig gelees moet word en nie ’n narratief nie. Laat ons ook net onthou om ons verbeelding deurentyd te gebruik, want die psalmdigters was meesters met vergelykings en hiperbole.
Ronell skryf die eerste Al Psalmend-reeks was van die gewildste meditasies wat sy al geskryf het. “Op lesers se versoeke is nóg 35 gebede bygevoeg om ons verder op ons geloofspad te begelei – al singend, al psalmend. Dit mag dalk in die toekoms gebeur dat ek deur elkeen van die Psalms sal beweeg, en saam met die psalmis 150 nadenke neerpen. Maar, tot dan is hier 65 vir jou om te lees.”